Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling

Taakspanlede:

Ds Heerden van Niekerk (Wes-Kaapland)
Mnr Thinus Ferriera (Oos-Kaap)
Ds Marais Kluge (Noord-Kaap)
Mr Bully Bothma (Vrystaat)
Ds SW Scott (KZN)
Mnr Apie Barnard (Goudland)
Ds Petrus Kriel (Noordelike)
Dr Samuel Louw (Hoëveld)
Ds Pieter Dorey (Oostelike)

Die kompleksiteit van grondhervorming en die impak daarvan op die landbousektor en landelike ontwikkeling, moet nie onderskat word nie. Talle rolspelers is by ’n verskeidenheid van sake betrokke. Standpunte loop dikwels uiteen. Dit sal ’n groot fout wees as die Kerk oningelig en veralgemenend te werk gaan in die nakoming van sy profetiese en pastorale verantwoordelikheid.

Die Kerk wil aan God se kant staan as dit kom by die waarheid, geregtigheid, billikheid en menswaardigheid. Die Kerk wil veral ’n stem wees vir diegene wat nie oor die mag of middele beskik om vir hulleself te praat nie.

Die Taakspan verwoord onder andere in hierdie verslag wat in die harte van lidmate leef en waarvan die Algemene Sinode met erns moet kennis neem.

Vertrekpunt: Vanuit ons geloof en belydenis sê ons: God is in beheer.

Ons leef in goed en kwaad met die vaste wete van God se voorsienigheid vir sy kinders – in tye van voorspoed en teenspoed. In ons gesprek het daar sekere sleutel-konsepte uit die verskillende streke gekristalliseer wat direk verantwoordelik is vir, of onderliggend daaraan, ‘n bepalende rol speel in die huidige krisis in ons land sover dit Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aangaan:

  1. Ons lewe in Suid-Afrika te midde van die feit dat die land in vele opsigte ‘n nie-suksesvolle staat geword het – wat in haas alle sektore van die samelewing vooruitgang inhibeer. Dis ook ontstellend dat van ons (lidmate) al gemaklik geraak het hiermee en nie meer daarteen protesteer nie.
  2. Dit word duidelik gesien in die feit dat die grondhervormingsproses nie na wense verloop nie – nie soseer as gevolg van die landbousektor of staatsbeleid nie, maar as gevolg van die onvermoë, korrupsie en wanadministrasie van amptenare in die betrokke staatsdepartemente.
  3. Die een onreg (vervreemding van grond in die verlede) is nou vervang met nuwe onreg: die plundering van landbougrond as ‘n nasionale bate deur ‘n magselite; die skepping van valse verwagtinge by grondloses; vernietiging van landbou as werkskeppende entiteit; voedselsekerheid wat tot ‘n groot mate vernietig word.
  4. Een van die ernstige destruktiewe gevolge hiervan is die ineenstorting van sosio-ekonomiese potensiaal en verwagtinge van plattelandse gemeenskappe – wat uiteindelik uitkring om ook onmoontlike druk op stedelike ontwikkeling te plaas.
  5. Winsgewende landbou en volhoubare bestaansboerdery is die wyses waarop voedselsekerheid behou/geskep kan word en ook bygedra kan word tot ekonomiese voorspoed vir almal.
  6. Rassisme speel toenemend ‘n rol in ons SA-gemeenskap. Dit blyk al meer asof die ideaal van ‘n nie-rassige samelewing as onhaalbaar gesien word. Die ideaal van ’n nie-rassistiese samelewing mag egter nie prysgegee word nie.
  7. Onderliggend aan die prosesse van staatkundige ontwikkeling, speel die invloed van Westerse en Afrika-filosofie (wêreld- en lewensbeskouing) ‘n belangrike rol – alhoewel dit selde openlik gesê word.
  8. Dis vir die Kerk belangrik om te besef dat hierdie gesprek (oor genoemde sake) nie meer in isolasie gevoer kan word los van ander werk in die Kerk nie. Die kerkleierskap sal hierin duidelik rigting en leiding moet gee.
  9. Hierdie gesprek moet ook binne die NG Kerkfamilie en ekumeniese verband gevoer word. ’n Verskeidenheid forums is beskikbaar waar ons gehoor kan word.

Ons sal ‘n nuwe fokus moet kry op die roeping van die Kerk om die perspektief te vestig dat die owerhede dienaars van God is tot ons beswil. So het die NG Kerk alreeds in 2004 hieroor besluit: “Desnieteenstaande kan die kerk steeds op grond van die Skrif van die owerheid verwag om die publiekregtelike ruimte te skep vir die kerk ten einde die kerk in staat te stel om die eer van God ook op staatkundige terrein te soek. Die saak waarom dit in Artikel 36 gaan, geld in elk geval vandag nog net soos destyds, naamlik dat alle owerhede onder die oppergesag van God staan.”
Van hieruit doen ons ‘n beroep op die kerkverband om voorbidding te doen vir wysheid vir die owerhede om hul Godgegewe roeping tot reg te laat kom en op ons lidmate om hulle Christelike geloof prakties in eie konteks uit te leef as getuienis van God se teenwoordigheid.

Dr Gustav Claassen  (Sameroeper)
E-pos:  gustavc@ngkerk.org.za

 

 

LogoF

Verslag Algemene Sinode