In hierdie interaktiewe werksessie fokus ons op die rol van die gespreksleier of host — die persoon wat die gesprek dra, vrae vra en ruimte skep vir ’n storie om te ontvou. Die tegniese kant van podcasts is eintlik eenvoudig. Wat werklik saak maak, is hoe jy ’n gesprek lei sodat mense wil luister.
Dit is nie ’n lesing nie. Deelnemers neem deel, dink saam en ervaar self hoe ’n goeie gesprek werk. Ons verken saam vrae soos:
Hoe vra ’n mens vrae wat mense help om hul storie te vertel? Hoe luister ’n host regtig?
Hoe help jy ’n gesprek om natuurlik te vloei?
En hoe skep jy ’n ruimte waarin geloof, ervaring en lewe eerlik gedeel kan word?
Die fokus van die sessie is om deelnemers te help verstaan hoe ’n podcast-host dink, luister en vrae stel.
Teen die einde van die sessie sal jy: • beter verstaan wat ’n goeie podcast-gesprek laat werk • nuwe idees hê oor hoe om vrae te vra wat stories oopmaak • ervaar hoe luister ’n gesprek kan verdiep • met meer selfvertroue voel om self ’n gesprek te lei
Hierdie sessie is ideaal vir mense wat belangstel in podcasts, onderhoude of geloofsgesprekke — en wat wil leer hoe om goeie gesprekke te fasiliteer.
In hierdie sessie werk ons prakties met die kuns van luister en vrae vra. Deelnemers oefen hoe ’n host ’n gesprek kan lei wat mense help om hul storie te vertel.
Aktiwiteit tydens die sessie: Ons vra ’n paar deelnemers om as vrywillige gespreksvoerders op te tree. Hulle kry eenvoudige gespreksvrae en voer ’n kort gesprek terwyl die groep saam luister. Daarna reflekteer ons saam oor watter vrae stories oopgemaak het, hoe die host geluister het en hoe die gesprek ontwikkel het. Die doel is om prakties te ervaar hoe goeie vrae en aandagtige luister ’n gewone gesprek kan verander in ’n betekenisvolle storie.
