Jesus se lewe begin met ’n geskenk vir die wêreld. In Lukas vertel die engel vir die herders dat ’n Verlosser gebore is. Jesus kom na ons toe as God se liefde in menslike vorm – naby, broos en vol genade.
By hierdie stasie word ons herinner dat God eerste na ons toe kom.
Ritueel:
Staan ’n oomblik stil en maak jou hande oop as ’n teken dat jy God se liefde ontvang. Bid eenvoudig: “Here, dankie dat U na my toe gekom het.”
Gebedsstasies
Regoor die terrein, is daar sewe gebedsstasies. Hierdie stasies is die hele tyd beskikbaar gedurende die konferensie, en jy is welkom om hulle enige tyd te besoek.
Elke stasie fokus op ’n ander moment in Jesus se lewe, soos dit in die Evangelie van Lukas vertel word. Saam neem hulle ons op ’n reis deur Jesus se lewe: van sy koms na die wêreld, sy roepstem, sy genesing en onderrig, sy lyding, sy opstanding en sy heerskappy.
Die gebedsstasies is ruimtes vir stilword, gebed en ontmoeting met God. Jy kan hulle besoek wanneer jy vrye tyd tussen sessies het, wanneer jy die behoefte het aan stilte, of wanneer jy net ’n oomblik wil neem om by God stil te staan.
Jy kan ’n stasie alleen besoek, of jy kan iemand nooi om saam met jou te gaan, ’n vriend, mentor of iemand uit jou groep. By elke stasie is daar ’n eenvoudige handeling wat jou kan help om te bid en te reflekteer.
Neem jou tyd.
Word stil. Bid. Luister.
Mag hierdie gebedsstasies jou help om Jesus op ’n nuwe manier te ontmoet gedurende die konferensie.
