Verhale kry dinge met ons reg wat selfs goeie argumente sukkel om te doen. In ’n wêreld met toenemende inligtingsgeraas en konstante stryery op publieke forums, kan die herontdekking van die kuns van die vertel van stories ons dalk meer help as wat ons besef.
Stories (fiksie en nie-fiksie) beweeg ons oor die grense van mense. Dit wys wat anderkant die heinings gebeur, ontbloot die ironie in geykte argumente, maak van statistieke mense met gesigte en emosies, en help ons om weer vir onsself in die spieël te skrik. Ons het baie om te leer, nie net by wát Jesus gesê het nie, maar veral ook by hóé hy dit gesê het.
Jesus was ’n storieverteller en het dikwels met ’n vraag geantwoord. In die sessie gaan ons kyk na voorbeelde van hoe stories moeilike gesprekke tussen uiteenlopende mense moontlik maak; hoe verhale ons kan help om ons geloof te verwoord; ’n paar idees oor die ontdekking van bestaande narratiewe en die skepping van kreatiewe stories.