Wat van as geloof nie net iets is wat ons weet of sê nie, maar iets wat ons beoefen? In hierdie sessie word ons genooi om geloof te sien as ’n ateljee-ruimte: ’n plek van aandag, verbeelding, stilte en skepping. ‘n Ruimte waarin God ons vorm. Riaan Stoop hou ’n spieël voor ons op met die vraag oor of ek en jy besig is met ‘n “drive thru”-lewe. Wat gaan verlore wanneer alles vinnig, oppervlakkig en onmiddellik moet wees? Leandra Seyfferdt wys hoe kuns ’n gesprekstaal kan word. Kuns kan ’n manier wees om met God en mekaar te kommunikeer wanneer woorde tekort skiet. Marnus Havenga help ons om te onderskei tussen die wêreld van algoritmes en aandag, en die oproep tot gebed. Franziska Andrag-Meyer neem ons na die raakpunt waar kuns en geestelike begeleiding mekaar ontmoet; waar skepping en luister hand-aan-hand gaan op ons reis saam met God.