Vraag en Antwoord
Wat glo die NG Kerk oor die Bybel as God se Woord? En oor hoe ons die Bybel verstaan en gebruik?
Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis is die Bybel as God se Woord “heilig”, “volmaak”, “onfeilbaar” en “gesagvol” (NGB Artikel 7). Die NG Kerk aanvaar hierdie belydenis. Dit beteken ons glo op grond van die getuienis van die Heilige Gees in ons harte dat die Bybel God se Woord is. Die Bybel bevat die wil van God en leer vir ons alles wat ons vir ons verlossing en geluk (of "saligheid") moet glo.
In 2023 het die Algemene Sinode hierdie oortuiging opnuut bevestig. (AS 2023 Skrifgesag)
Soos ander Christene lees ons natuurlik die Bybel vanuit ons eie omstandighede. Daarom gebeur dit maklik dat ons, ook binne een gemeente, ‘n spesifieke Skrifgedeelte verskillend verstaan of vertolk. Dit bring dikwels spanning en konflik mee. Dit is goed om in gedagte te hou dat ons eie “leesbenaderings” en ons eie insigte nie volmaak is nie. Ons roeping is om met ‘n leerbare gees, met “fyn onderskeiding van waarop dit werklik aankom” (Filippense 1:9-10), na God se boodskap in die Skrif te luister. Die beste kans wat ons het om God se boodskap duidelik te hoor is om in gesprek met mekaar, dit wil sê saam met ander gelowiges en ander kerke, geduldig aan te hou lees met die oog daarop om te verstaan.
Die NG Kerk se Skrifbeskouing word saamgevat in ‘n verklaring wat by die Algemene Sinode van 2004 aanvaar is (AS 2004 Skrifgebruik en Skrifgesag). Die riglyne wat in die verklaring van 2004 gevind word, moet vir volledigheid saam met drie ander goedgekeurde dokumente oor die NG Kerk se Skrifverstaan gelees word, naamlik AS 1986 Skrifgesag; AS 1990 Skrifberoep in Etiese Sake; AS 2002 Gesag van die Skrif.
Volgens Kerkorde Artikel 1 is die NG Kerk gegrond op die Bybel as God se Woord en staan die leer wat die kerk in ooreenstemming met die Woord bely, uitgedruk in die "Formuliere van Eenheid". Hierdie drie belydenisskrifte is die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
Wat beteken dit om die leer van die belydenisse “in ooreenstemming met die Woord” te bely? Hierdie vraag word beantwoord in die NG Kerk se beleidsdokument, Skrifgesag en Skrifgebruik van 1986 (Punt 4). Om te sê die belydenisse word “in ooreenstemming met die Woord” bely, onderstreep dat die Bybel die enigste norm vir die belydenis van die kerk is. Die belydenisskrifte dra ‘n “kerklike gesag”; die Skrif dra “Goddelike gesag”. Daarom is die Gereformeerde beginsel dat die belydenisskrifte oop is vir hersiening in die lig van die Skrif. Die belydenisskrifte het wel 'n bindende gesag vir die kerk. Indien iemand vind dat die belydenis in stryd is met die Skrif, word van daardie persoon verwag om ‘n gravamen (beswaarskrif) te skryf, dat die Sinode die gronde van die beswaar in die lig van die Skrif beoordeel en daaroor ‘n beslissing maak.
Die kerk aanvaar die belydenisskrifte omdat (quia) en nié in soverre (quatenus) hulle met die Skrif ooreenstem nie. Dit beteken nie dat die historiese aard van die dokumente ontken word nie. Die belydenisskrifte het in spesifieke tye en omstandighede ontstaan en dra “die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het”. Ons interpreteer die belydenisskrifte, wat in die geskiedenis ontstaan het, in ons tyd “volgens hulle skriftuurlike bedoeling”. Dit word verduidelik in die dokument: AS 1998 - Belydenisskrifte as Historiese Dokumente.
In 2023 het die Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) vir die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) ‘n studiestuk opgestel oor die rol en aard van belydenisse. In hierdie werksdokument word onder andere die noodsaak vir "behoorlike eksegese" van die belydenisskrifte beklemtoon. Indien die belydenisse, soos soms gebeur, as tydlose sisteme van waarheid hanteer word, en as wapens teen andersdenkende medegelowiges gebruik word, verkry die belydenisse ‘n “dwingende gesag” en hou hulle op om vry te maak en op te bou. Indien ons egter die omstandighede waarin die belydenisse destyds ontstaan het in gedagte hou, sowel as die konteks waarin ons dit vandag lees, kan ons verwag om die bevrydende waarheid van die belydenisse te hoor.
Soos met die verstaan van die Bybel, is dit belangrik dat 'n mens nie die belydenisse op jou eie probeer interpreteer nie, maar as deel van die geloofsgemeenskap, sáám met ander gelowiges - ook die Christene wat in die eeue voor ons geleef het.
Die kerk se roeping is om te getuig oor 'n samelewing waarin die koninkryk van God meer sigbaar word. Christus het ons immers leer bid: “Iaat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel” (Matteus 6:9-10).
In 1986 het die NG kerk 'n belangrike beleidsdokument aanvaar, naamlik Kerk en Samelewing - 'n Getuienis van die NG Kerk. Dit is duidelik gestel dat die Bybelse begronding van 'n samelewingsbestel van afsonderlikheid (Apartheid) verkeerd is. Ras- en kleurverskille speel geen rol in die Bybel se beoordeling van mense nie. ʼn Ideologiese rigting of 'n volksgevoel mag nie vir ons ʼn beslissende woord bo die Bybel spreek nie. Die Bybel leer ons van God se koninkryk en van die God wat mense in genade opsoek om hulle deel van Sy eiendomsvolk te maak. Die kerk gaan met 'n diensbare gees tot alle mense uit. Die kerk roep ook regerings op om oorsake van nood te verwyder en versorgingsinstansies vir almal daar te stel.
Na die 1986-verklaring, Kerk en Samelewing, het die NG kerk steeds nagedink oor die rol van die kerk in die samelewing - ook ten opsigte van die nuwe staatkundige bedeling (AS 2004 - NGK en staatkundige bedeling). Ons moet aanvaar dat die huidige grondwet van Suid-Afrika skeiding maak tussen staat en godsdiens. Die regering baseer nie beleid en wetgewing op die opvattinge van godsdienstige groepe of denominasies nie. Hoewel daar tradisioneel in die Afrika-konteks nie skerp tussen die private en die openbare lewe en tussen godsdiens en ander samelewingsverbande onderskei word nie, hou die afstand wat die Suid-Afrikaanse grondwet tussen die staat en godsdienstige instellinge skep, egter die voordeel in dat dit ons bewaar van 'n ideologiese verstrengeling van godsdiens en politiek.
Voor die aanvang van die nuwe Suid-Afrikaanse politieke bedeling het die NG Kerk in ‘n eksklusiewe verhouding met die regering gestaan met die doel om die samelewing te verchristelik. Daar was weinig samewerking met ander kerke en die verhouding van kerk en staat was grotendeels afgestem op die beskerming van blankes se belange. Ons besef vandag goed dat die verchristeliking van die samelewing in 'n diverse land soos Suid-Afrika slegs deur outoritêre afdwinging sal kan geskied. Dit sou uit die aard van die saak ‘n onwenslike benadering wees.
Die ruimte wat wel bestaan vir godsdienstige gemeenskappe en kerke om aan die gesprek oor beleid en wetgewing deel te neem, word verwelkom. Die NG Kerk kies om saam met ander kerke en rolspelers te werk vir ’n gemeenskaplike Christelike visie van ’n goeie samelewing waarin die welsyn van mense belangrik is.
Die NG Kerk onderskryf om hierdie redes ook die Handves van Menseregte wat vervat is in die Suid-Afrikaanse grondwet - in soverre dit met Bybelse waardes ooreenstem. Twee dokumente is in hierdie opsig belangrik: AS 1990 Menseregte en AS 1990 Vredestaak van die Kerk. Die land se regering baseer wetgewing uiteraard nie op eiesoortig Christelike oortuigings nie maar op die Handves vir Menseregte. Waar die NG Kerk deelneem aan landswye georganiseerde forums en breër inisiatiewe, wat werk vir die heling en genesing van die land, geskied dit egter vanuit die vertrekpunt van die verlossing in Jesus Christus. Dieselfde geld wat betref die NG Kerk se getuienis teenoor die regering en wetgewende gesag.
Die vertrekpunt vir enige gesprek oor lewe en dood is die Bybelse oortuiging dat God die gewer van lewe is (Genesis 2:7; Deuteronomium 32:39; Job 33:4; Psalm 36:9) en dat God die lewe baie kosbaar ag (Psalm 139:13-14; Matteus 10:29-31; Joh 3:16).
Vir mense wat direk deur aborsie geraak word, is ‘n gesprek oor aborsie nie ‘n gesprek oor ‘n objektiewe saak nie. Ons kan nie oor aborsie praat sonder om te luister na mense wat direk daardeur geraak word nie.
Die Algemene Sinode (AS) van 2023 het ‘n gespreksdokument oor aborsie bespreek (Sien VORDERINGSVERSLAG 2023 - skakel volg binnekort). Die AS het toe gevra dat die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (ATLAS) binne die raamwerk van hierdie dokument op ‘n deelnemende wyse voortgaan om ‘n gespreksgids vir gemeentes saam te stel. Die gespreksgids moet Bybelse en teologiese perspektiewe, asook die beste moontlike inligting uit verskillende navorsingsvelde in die Suid-Afrikaanse konteks, bevat. Dit moet help in die soeke na helderheid in spesifieke pastorale omstandighede, waar mense liggaamlik geraak word en dikwels pyn en trauma ervaar.
Die gesprek vind binne vier kontoere plaas:
1) Aborsie is regoor die wêreld ‘n komplekse, sensitiewe en gelaaide saak – ook in ander denominasies en godsdiensgroepe. Dit ontlok om verskeie redes sterk emosies, en is ‘n saak waaroor mense sukkel om mekaar met respek aan te hoor. Daarom moet daar nie net besin word oor wát oor aborsie gesê word nie, maar veral ook oor hóé daar met mekaar gepraat word.
2) Gesprekke in Suid-Afrika oor aborsie word, veral in Christelike kringe, sterk aangevuur deur die Amerikaanse debat. In die VSA sien ons die polariserende impak van twee-party politiekery op elke moontlike gebied, juis ook wat betref die Christelike godsdiens en moreel-etiese sake. Suid-Afrikaners behoort die teologiese en pastorale gesprek oor aborsie doelbewus binne ons eie konteks te voer en nie toe te laat dat 'n gesprek wat uit ‘n ander konteks kom ons polariseer nie.
3) Ons moet erken dat vroue, wat liggaamlik direk deur aborsie geraak word, deur die geskiedenis heen in die Christelike tradisie en ook in die NG Kerk die minste ruimte gegun is om hul stemme te laat hoor. Die werklikheid van die ervarings van reproduktiewe verlies deur vroue – hetsy deur miskraam, stilgeboorte, aborsie, of na-geboorte sterfte – moet gehoor en erken word. Die ervarings van paartjies wat hierdie vorme van trauma al moes beleef het, of wat ingrypende lewe-en-dood besluite moet neem (dikwels onder geweldige tydsdruk), moet gerespekteer word. Baie verkies om in alleen met hulle pyn te worstel, omdat daar min veilige ruimtes is om met vrymoedigheid daaroor te praat.
4) Die kerk se bydrae tot die gesprek oor aborsie is teologies van aard. Wanneer die kerk in gesprek tree met mense uit ander velde (soos medici, regsgeleerdes en maatskaplike werkers), asook met mense wat direk deur aborsie geraak word, behoort hulle as teologiese en kerklike gespreksgenote op te tree. Die kerk se bydrae moet help om ontmoetings met God te bemiddel. Die kerk behoort behulpsaam te wees in sensitiewe en uitdagende pastorale situasies.
Binnekort beskikbaar
Die Algemene Sinode van 2019 het gevra dat die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (ATLAS) ‘n studie doen oor die verspreiding van godsdienste, asook oor intergodsdienstige gesprek in Suid-Afrika. ATLAS het ‘n vorderingsverslag hieroor geskryf, wat deur die Sinode van 2023 bespreek is (AS 2023 Intergodsdienstige Verhoudinge)
ATLAS gaan tans voort om ‘n gespreksgids saam te stel, met die doel om gemeentes wat vrae het oor die verhouding met mense van ander godsdienste van die beste moontlike inligting te voorsien. Hierdie inligting sluit onder andere verdere Bybelse perspektiewe (Ou- sowel as Nuwe-Testament) in.
Die Sinode het beklemtoon dat die uniekheid van Christus, soos in die studiestuk van 2023 genoem word, sentraal staan in die kerk se nadenke oor die tema van ons verhouding met ander godsdienste.
ATLAS het in die aanloop tot die 2023-verslag onderhoude gevoer met verteenwoordigers van ander godsdienste in Suid-Afrika. Hierdie leiers het saamgestem dat mense van verskillende godsdienste in ons land nie dieselfde hoef te glo nie, maar wel saam behoort te werk om nood te verlig en onreg en korrupsie aan te spreek.
Die Sinode van 2023 het versoek dat geleer sal word uit voorbeelde (“best practices”) van gemeentes wat goeie verhoudings met ander godsdiensgroepe het en saam met hulle werk vir heling in die gemeenskap.
Wat sê die NG Kerk oor die duiwel?
Daar kan geen twyfel daaroor wees dat die Bose en boosheid volgens die Bybel ‘n werklikheid is nie. Ook die belydenisskrifte praat duidelik hieroor. Ons moet wel in ag neem dat die Bybel en ons belydenisskrifte op verskeie maniere oor die duiwel en die bose praat. Die Bose en boosheid manifesteer (of verskyn) in verskillende gestaltes. (AS 2023 Besluit oor Bediening van Bevryding en die Bose)
Die Markus-evangelie beklemtoon byvoorbeeld dat Jesus se stryd van die begin af nie net teen vlees en bloed was nie maar teen die "satan", die teenstander van mense "en sy trawante". Die Johannes-evangelie skilder satan as die argetipe van sondige opstand teen God, die oorsaak en bewerker van sonde. Paulus praat weer van bonatuurlike, onpersoonlike magte waaraan die mens uitgelewer is. (AS 2011 Bediening van Bevryding )
Die belangrikste om te onthou wanneer ons oor die duiwel dink of praat, is dat ons aan die Een behoort wat ons "uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig” (1 Petrus 2:9). Ons mag in die woorde van die “Onse Vader” aanhou bid dat God ons van die Bose sal verlos. God is die Een wat ons vrymaak van “ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 52).
Die duiwel is magtig. Maar die duiwel is oorwin! Hierdie oortuiging is in die hart van die taal van die Nuwe Testament oor die Bose en boosheid. Alle bose magte is aan die gekruisigde en opgestane Christus onderwerp (Efesiërs 1:22, Filippense 2:9-11, Kolossense 1:15-20; 2:10).
Kinders van God voel dikwels oorweldig deur die Bose, wat ons versoek soos ’n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14) en ons bedreig soos ’n brullende leeu (1 Petrus 5:8). Ons is in ’n geestelike stryd gewikkel teen die boosheid in al sy manifestasies in die wêreld. Te midde hiervan glo ons egter dat die Bose, “die wêreldheersers van die duisternis, die bose geeste in die hemelruim” (Efesiërs 6:12), deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus en die uitstorting van die Gees aan bande gelê is.
Wanneer ons oor die duiwel praat, is ons hoogste prioriteit om die radikale verlossingswerk van Christus vrymoedig te verkondig.
Die goeie nuus van die Bybel is dat God ons in genade verlos en dat ons mense word van God se Koninkryk. Ons word egter as mense van die Koninkryk met ʼn “dure roeping” toevertrou. Ons moet ook werklik onder God se Koningskap lééf - nie net op die gebied van kerklike verhoudings nie, maar op alle lewensterreine (Sien 10.4 Kerk en Samelewing). Die kerk dra die boodskap van God se geregtigheid wat oor alle onreg, bose magte, ideologieë sal en moet triomfeer. Die hele lewe met al sy aspekte - ook die terrein van die ekonomie - behoort krities onder die normatiewe lig van God se Woord geplaas word.
Hoewel ons in die Bybel duidelike "algemeen sedelike beginsels" vind, moet ons daarteen waak om ‘n ekonomiese stelsel vir vandag presies uit die Bybel te probeer aflei (Sien AS 1990 Skrifberoep in Etiese Sake, 1.4). Die Bybel kan nie gebruik word as ‘n handboek waaruit ons die oplossing van ons eietydse ekonomiese, maar ook sosiale of politieke vraagstukke aflees nie.
In die tyd van die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrikaanse bedeling, het die NG Kerk daarom geoordeel dat die kerk nié ʼn bepaalde ekonomiese stelsel vir die land behoort aan te beveel nie maar wel Bybels-etiese riglyne vir die ekonomie moet uitspel (AS 1990 - Bybelse beoordeling van vryemarkstelsel). Riglyne soos dat die stelsel die ekonomiese posisie van behoeftiges moet te verbeter en aan alle burgers die vryheid tot produktiewe deelname aan die ekonomie behoort te bied. Die Sinode van 1990 was bekommerd dat die invoering van 'n ongekontroleerde vryemarkekonomie gevolge soos mensonwaardige lone vir werkers, 'n groter inkomstegaping tussen ryk en arm en onbekostigbare onderwys en gesondheidsorg vir die armes sou meebring. Die Sinode was in hierdie stadium oortuig dat die staat - ten minste aanvanklik - in die ekonomie sou moes ingryp ten einde die grootskaalse ongelykheid op ekonomiese gebied te korrigeer. Terselfdertyd wou die kerk mense aanspoor om hard te werk om hulle finansiële welvaart te verhoog (sonder 'n skuldgevoel, en met 'n offervaardige gees).
Toe die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in 2004 in Akkra 'n verklaring gemaak het, Covenanting for Justice in the Economy and the Earth, is die NG Kerk ook genooi om kommentaar te lewer. Die Accra-verklaring sien die "neoliberale ekonomiese globalisering" met sy "ongekontroleerde kompetisie, verbruikerisme, onbeperkte ekonomiese groei, privaat eienaarskap sonder sosiale verpligting, privatisering van nasionale bronne, onbeperkte toegang vir buitelandse investering en invoere en onbeperkte vloei van kapitaal" as 'n krisis. Veral die "geloof dat rykdom die wêreld sal red" - waarvoor die armes en die aarde duur betaal. Die NG Kerk kon met die algemene strekking van die Akkra-verklaring, die opgaar van rykdom ten koste van die armes identifiseer. Die NG Kerk kon egter nie saamstem met die demonisering van mense en instellings net omdat hulle deel uitmaak van die internasionale handelstelsels nie. Ook nie met die bewering dat globale kapitalisme die enigste oorsaak is van die kloof tussen ryk en arm nie. Die NG Kerk steun eerder goeie hervormings van die internasionale handelstelstelsel, wat op die menswaardigheid van alle mense gerig is. Die NG Kerk het ook gemeentes en lidmate opgeroep om eenvoudiger en meer volhoubare leefstyle te handhaaf. (AS 2007- Profesie oor profyt)
+++++
[Lees ook: 'n Studiestuk van Die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake oor die Arbeidsetiek. Hierdie gesprek het ontstaan toe NG Kerk lidmate postevermindering/ rasionalisering in die werkplek in die 1990's ervaar het.]Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar
Binnekort beskikbaar