Dag 35: Breek die bose altare in ons land af! (50 Dae Gebedsreis)
Skriflesing: Eksodus 34:13 – 13 Hulle altare moet julle egter afbreek, hulle gedenkstene moet julle stukkend slaan, hulle asjeras moet julle afkap,
14want jy mag nie voor ‘n ander god in aanbidding buig nie, omdat die Here wie se Naam “Besitlik” is, ‘n besitlike God is.
Gebed: Vergewe ons, liefdevolle Vader, dat ons ander gode aanbid – gode wat anders lyk as wat ons verwag – gode wat vermom is as Mammon, mag,
geld, gierigheid, en dat ons toelaat dat vrees oor ons beheer neem. Vergewe ons elke keer wat ons altare van mag en gesag opgerig en U versaak het. Mag ons gebede opwaarts styg soos wierook, en wanneer
ons ons hande na U ophef, mag dit wees om U wil te doen en tot U eer alleen. Dit is ons gebed dat U in eenheidsgesindheid aanbid sal word – dat U lof uit elke gebed en uit elke gemeenskap sal weergalm: uit elke woonstelblok, besigheidsperseel, koshuis, landery, skaapkraal en skool in ons land.
Geloofsverklaring: Ons verklaar in geloof en bely dat God Drie-Enige die enigste ware God is wie aanbid moet word. Ons sluit aan by die miljoene stemme wat eer en hulde bring aan die God van hemel en aarde. Ons verklaar in geloof dat Sy Naam ʼn veilige vesting is waarheen die opregtes kan gaan om beskerm te word en nuwe krag te kry.