COVID-19: Hoe kan my gemeente betrokke wees?

Nog ’n brief in die moeilikste omstandighede denkbaar, maar ook ’n brief wat ná Paasfees geskryf word. Pase het in April 2020, in ’n ongelooflike moeilike tyd, as ’n geskenk na ons toe gekom. Die Paasgebeure het ons te midde van ’n uitdagende werklikheid weer met hoop gevul.

Hoop het altyd geheue nodig. So lees ons dat gelowiges in die tyd van die Ou en die Nuwe Testament telkens in krisistye herinner is aan God se groot verlossingsdade van die verlede. Dit het geloofsgemeenskappe in staat gestel om hulle ’n nuwe toekoms te verbeel, want die verlossende God van die verlede is ook die Een wat getrou die toekoms in sy hande het.

Tydens die afgelope Paasfees kon ons oordink wat die betekenis van die kruisiging en die opstanding vir ons tyd inhou. Dit het weereens vir ons hoop gegee. Petrus praat daarvan in sy eerste brief as ’n lewende hoop: “In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop” (1 Pet 1:3). Dié lewende hoop geld nie net vir eendag nie. Die hoop wat kom uit die leë graf het kosmiese betekenis en is tydloos. ’n Lewende hoop is ’n hoop wat in die aangesig van die grootste uitdaging kan jubel oor die lewe saam met God. Dit beteken dat ons teen alle vorme van dood en verwoesting kan protesteer, want die opstanding van Jesus is die triomf oor die dood in al sy vorme. Hoop aanvaar nie die werklikheid van vasgelooptheid en wanhopigheid nie. Die lewende hoop wat ons het, stel ons in staat om met sekerheid nie net vir ons ’n nuwe heerlikheid in die toekoms te verbeel nie, maar om ook nou te glo in die heerskappy van Christus oor alle dinge, oor die ekonomiese en politieke uitdagings, rampe en pandemies. Daarom het COVID-19 het nie die laaste sê nie.

Die NG Kerk en sy lidmate koester hierdie lewende hoop en getuig daarvan. Dit is deel van ons belydenisskrifte en word verseël in ons sakramente wat herinner aan die getrouheid van God se beloftes.

’n Peiling wat ná die eerste week van inperking deur Kerkbode gedoen is, toon dat ons lidmate oor die algemeen emosioneel sterk is. Tipiese emosies wat ’n mens in ’n tyd van trauma en ontwrigting sou verwag, soos angs, onsekerheid, magteloosheid en isolasie, het opmerklik laag getoets. Die belewenis wat die meeste aangedui is, was: “Ek voel kalm omdat God alles ten goede laat meewerk.” Die tweede hoogste emosie was bekommernis oor die kwesbare mense in Suid-Afrika. Ons mense se geloof vul hulle met hoop en beskerm hulle teen angs, en dit maak hulle besorg oor ander. Daar was ook ’n vraag oor lidmate se behoeftes in hierdie tyd. Die grootste behoefte wat uitgespreek is, was aan geleenthede om iets vir ander mense te doen, veral vir die kwesbare mense in ons gemeenskappe. Dit sal ’n groot wins wees as gemeentes hierdie besorgdheid en behoefte op plaaslike vlak kan omsit in diens.

KLIK HIER vir ’n dokument wat moontlikhede bied vir betrokkenheid en diens . Miskien is jou gemeente al klaar op die een of ander manier ’n draer van hoop en ons sal graag daarvan wil hoor.

Ten slotte bid ek saam met jou ’n gebed wat Martin Luther gebid het in ’n tyd toe ’n soortgelyke epidemie sy wêreld op sy kop gekeer het:

En nou, aan U, die God wat in staat is om ons van wanhoop te weerhou, wat ons bevry en verlos, wat keer dat ons val, wat ons oplig uit die dal van hooploosheid en ons bring na die bergtoppe van hoop, wat ons uitlei uit die middernag van desperaatheid na die dagbreek van hoop – aan U, God en Seun en Heilige Gees, kom die eer toe en die mag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Groete, sterkte en bly gesond!

Saam in Sy diens

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

Plasinggalery
Pos Dokumente
Video oor

DEEL DIT

Kerkbode Vennote

Watter Bybeldagboek kies ek vir die nuwe jaar?
18 December 2024
NG Gemeente Amersfoort: Voltydse leraar/emeritus
18 December 2024
ACK Howick/Pukekohe Gemeente in Auckland, NZ : Leraarspos
17 December 2024
Fontainebleau Gemeenskapskerk (NG Fontainebleau) : Aanbiddingsleier
17 December 2024

Boodskap Vir Vandag Vennote

Nie vir my nie, dankie!
3 January 2025
Wysheid in praktyk
2 January 2025
Wat is wysheid?
1 January 2025
Sê dit met jou lewe
31 December 2024

Lig Tydskrif Vennote

Loop lig vir sulke finansiële slenters
10 December 2024
2024 se mees gelese getuienisse: Ma se berou en twee vroue se stryd ná man se selfdood, tikverslawing
25 December 2024
‘n Planeetvriendelike Kersfees
25 November 2024
Kerstradisies – maak dit (nog) saak?
13 December 2024
Open chat
Hello 👋
Kan ons jou help?