NG Kerk bring leraars ná meer as twee dekades weer nasionaal saam

RETORIA, 18 Augustus 2026 – Die NG Kerk is verbind tot diensbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing – daarvoor glo ons roep die Here ons. Ons glo dat gesonde en veerkragtige gemeentes nie net veilige geestelike tuistes vir mense bied nie, maar ook ’n belangrike rol speel in die welstand van gemeenskappe en die breër samelewing. Dit begin egter by mense wat daagliks geroep word om gemeentes en gemeenskappe te begelei, te versorg en met Woord en daad te dien. Ons wêreld smag na God en na liefdevolle sorg!

Dit is daarom ’n belegging in gemeentes, gemeenskappe en die land om in die welstand en veerkragtigheid van leraars te belê. ’n Leraar wat geestelik verkwik, emosioneel versterk en prakties toegerus is, is beter in staat om met ywer, insig en volharding diensbaar te wees aan sy of haar gemeente en gemeenskap. Wanneer leraars se netwerke en verhoudings versterk word, word ook die verbondenheid en samewerking binne die breër kerkverband versterk.

Teen hierdie agtergrond bied die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 24 tot 28 Augustus 2026 ’n PredikanteSAAMkoms by Goudini naby Rawsonville in die Wes-Kaap aan. Dit is die eerste keer sedert die vorige byeenkoms van dié aard in 2005 dat leraars van regoor Suid-Afrika die geleentheid kry om in kerkverband op hierdie skaal as kollegas saam te kom.

Om dié wat ander versorg, self te versorg

Met die uiteindelike doel van ’n gesonde samelewing in gedagte, wil die SAAMkoms gestalte gee aan die beginsel van “care for the carers” – om dié wat ander versorg, self te versorg. Kerkspieël-navorsing (2024/2025) toon dat die welstand van predikante onder druk is weens die uiteenlopende eise van die lewe en bediening.

Die SAAMkoms skep daarom doelbewus ruimte vir rus, bemoediging, toerusting en groei. Dit bied aan leraars die geleentheid om in die Woord te verdiep, rondom die Woord nuwe perspektiewe te ontdek, van mekaar te leer en die netwerke en verhoudings te versterk wat hulle in hul roeping en bediening ondersteun.

Die doel is nie bloot om leraars vir ’n week uit hul gewone werksritme te haal nie, maar om hulle te help om met nuwe energie, inspirasie en moed na hul gemeentes en gemeenskappe terug te keer.

Jesus is die middelpunt

Die program ontvou rondom sewe sleutelmomente in die lewe van Jesus: Jesus wat kom, roep, genees, leer, ly, leef en heers. Hierdie ritmes nooi leraars om vanuit die lewe van Jesus weer die vreugde van hul roeping te herontdek en te vier; om hul passie vir die Here se koninkryk te hernu.

Jesus is die middelpunt van die program, wat deur leraars vir leraars ontwerp en aangebied word. Sowat 100 kollegas is as aanbieders betrokke.

Die SAAMkoms is uiteindelik ’n uitnodiging tot rus, ontmoeting, groei en viering.

’n Program wat ruimte laat vir groei

Leraars kan uitsien na ’n gebalanseerde program waarin hulle hul eie deelname, na gelang van behoefte, kan ontwerp uit meer as 12 moontlike stasies, elk met ’n verskeidenheid keuses en ervarings.

Enkele hoogtepunte sluit in:

  • Grootgroepbyeenkomste soggens en saans: Die dag begin en eindig met gesamentlike aanbidding en inspirasie. Nuwe musiek wat spesiaal vir die geleentheid geskryf is, sal ook op digitale musiekplatforms beskikbaar gestel word.
  • Idee-Ateljee: Kort aanbiedings in die formaat van TED-talks om kreatiwiteit en nuwe denke aan te wakker.
  • Gebedsroete: ’n Ruimte vir stilte en refleksie om weer God se stem te midde van die gejaag van die bediening te hoor.
  • Netwerkgeleenthede: Geleenthede waar kollegas verhoudings kan bou en medewerkers vir nuwe drome of projekte kan vind.
  • Kunskapel: ’n Kreatiewe, geestelike ruimte waar geloof op helende, mooi en verrassende maniere uitdrukking kan vind.
  • Woordkamer: Waar daar in diepte na Bybeltekste gekyk word en ruimte geskep word om die Woord opnuut te hoor en vars perspektiewe vir die geloofslewe te ontdek.
  • Praktiese werkswinkels: Sessies wat fokus op vaardighede om leierskap in daaglikse gemeentewerk en bedieningspraktyke te verryk.

Van verkwikte leraars na versterkte gemeenskappe

Die NG Kerk se voetspoor strek oor Suid-Afrika. Waar leraars en gemeentes leef en dien, is daar die geleentheid om hoop te bring, mense by te staan en te begelei, gemeenskappe te versterk en God se teenwoordigheid in die samelewing sigbaar te maak. Daarom is die versorging van leraars nie bloot ’n interne kerklike aangeleentheid nie; dit raak ganse gemeenskappe op grondvlak.

Die feit dat alle beskikbare plekke (700 inskrywings) binne enkele weke opgeneem is, bevestig die behoefte aan hierdie ontmoeting. Die NG Kerk vertrou dat die SAAMkoms nie net leraars sal verkwik en versterk nie, maar ook sal bydra tot ’n nuwe seisoen van hoop, groei en veerkragtigheid in gemeentes, gemeenskappe en die land, tot die eer van God.

NAVRAE:
Kantoor van die Algemene Sekretaris
NG Kerk in Suid-Afrika

Dr. Nioma Venter
niomav@ngkerk.org.za / nadiaa@ngkerk.org.za

Plasinggalery
Pos Dokumente

Video oor

DEEL DIT

Kerkbode Vennote

Brief: Waar is die kind in ons morele gesprekke?
7 September 2026
Nagedink oor SAAMkoms 2026: Wat staan in transformasie se pad?
7 September 2026
Brief: Liewe Dominee, staan sterk!
7 September 2026
Durbanville-gemeente: Voltydse leraarspos
7 September 2026

Boodskap Vir Vandag Vennote

Eerlik
8 September 2026
Tollenaarsgebed
7 September 2026
Skaal
6 September 2026
Raad
5 September 2026

Lig Tydskrif Vennote

Desiré Gardner: ‘My lewe is een lang antwoord op gebed’
7 September 2026
Hondehelde: ’n terapiehond, ’n beskermengel en ’n kankerversorger
2 September 2026
Vier maande lank het ’n masjien vir haar asemgehaal: ‘Ek het net gebid dat ek my dogtertjie weer kon vashou’
1 September 2026
Ons plek aan God se tafel
31 August 2026