Op hierdie spesifieke punt in ons land en wêreld se geskiedenis, beleef ons almal onsekerheid en voel ons almal die vernietigende krag van verdeeldheid en ongelykheid.
Ons is pynlik bewus dat alle mense in ons land na ‘n goeie, mooi en veilige bestaan en toekoms smag. Een van die baie dinge wat ons in gemeen het, is dat ons land se mense bekommerd is oor die tekort aan werksgeleenthede, harde realiteite rondom voedsel en voedselsekerheid, geweldsmisdaad, ekonomiese groei en ekonomiese geregtigheid.
Ons weet dat alle ouers en versorgers in ons land besorg is oor hul kinders se onderrig en toekoms.
Ons is diep bewus dat daar talle traumatiese herinneringe in ons land is; ons deel die behoefte aan genesing en herstel.
Ons is dankbaar dat daar verskeie ruimtes bestaan waar mense van verskillende agtergronde en oortuigings diverse dele van die liggaam van Christus is: van die sportveld tot die raadsaal. Ons sien ook ‘n hoopvolle land wie se mense nie terugdeins voor ‘n uitdaging nie.
In krisistye roep die Here altyd weer mense om leiding te gee, kalmte te help bring en te probeer onderskei tussen gegronde en ongegronde vrese.
Op hierdie bepaalde moment in ons land, is daar ook ‘n geleentheid vir God se mense om hulle persoonlike en gesamentlike roeping te herbevestig en met oortuiging uit te leef. Ons wonder saam oor hierdie roeping, maar vermoed dit het nou te make met genesing,
liefde, saam loop en om te doen wat reg is teenoor alle Suid-Afrikaners. Die globale krisis en die her-posisionering van wêreldmoondhede laat ons ook besef wat ons het in Suid-Afrika: in die land, haar mense, ons veerkragtigheid en ons geleenthede.
Ons is dankbaar vir waar ons geroep is om volgelinge van Jesus te wees, hier aan die suidpunt van Afrika.
Ons ontdek daagliks ons voorregte en word gedring om bewus te wees van die wat nie het nie en die pynlike herinneringe wat ons dalk soms te vinnig probeer wegstoot. Die Gees dring ons daartoe om in hierdie bepaalde oomblik ‘n voorbeeld te wees van hoe God se mense saam loop – ‘n voorbeeld vir die wêreld.
Daarom verwerp ons alle narratiewe wat enige groep (hetsy bepaal deur ras, ekonomiese klas of taal) belangriker as ‘n ander maak.
Ons verwerp enige gedagte of insinuasie van slagofferskap: Suid-Afrikaners deel nie net ‘n traumatiese verlede nie maar begeer ook ‘n beter toekoms. Die oorwinnende, opgestane Here het ons tot hier gebring.
Ons diepste identiteit lê in Christus. Nie in spesifieke denominasies van vorme van kerkwees nie, nie in politieke partye of enige ander organisasies nie, nie in spasies wat soos ‘ek’ lyk of klink nie.
Ons vra vir harte wat sagter oor en met mense sal praat, dat ons die kollektiewe geheue van ons land en haar storie oor grond met respek sal hanteer. Ons is hartseer oor haatdraende en neerhalende taal en moedig almal aan om dit te vermy.
Ons wonder hoe dit kan lyk om saam te loop en te doen wat reg is. Vir ons as volgelinge van Jesus, maar ook spesifiek vir gemeentes van die NG Kerk.
Ons moedig lidmate en gemeentes van die NG Kerk baie ernstig aan om vir ons land en haar mense te bid. Om te bid vir rustigheid, dialoog en opregte versoening.
Ons gaan nie moed opgee op mekaar en op die ideaal van ‘n verenigde en godvresende Suid- Afrika nie.
Ons gaan ons veral nie deur vrees laat oorweldig nie.