Pastorale brief

PASTORALE BRIEF IN FEBRUARIE 2025

“Na U kyk ek op,

U wat in die hemel woon.

Ons oë is gerig op die Here ons God.

Wees ons genadig, Here, wees ons genadig…”

(Psalm 123)

Geagte broers en susters,

Ons het die afgelope weke onder die indruk gekom van die nood van ons mense, ons lande, subkontinent en die wêreld. Ons skryf uit ‘n diepe besorgdheid aan julle, met ‘n hartsgebed dat God Hom oor ons almal sal ontferm.

Ons besorgheid spruit uit die werklikhede van internasionale politieke verhoudinge tans; die greep wat kunsmatige intelligensie en dié wat dit beheer, op die vloei van betroubare inligting gekry het; groeiende polarisasie tussen mense wêreldwyd; gewelddadige konflik wat in soveel lande enorme lewensverlies en verwoesting veroorsaak het; dreigemente van handelsoorloë en sanksies wat nou ook hier vir ons in Suider-Afrika, onheil spel.

Ons besorgdheid gaan oor die effek hiervan op ons brose samelewing, waar bronne en lewensmiddele vir ʼn gelukkige naasbestaan alreeds onder groot druk is; klimaatsverandering en ʼn buitengewoon warm somer, droogte én vloede gebring het; waar daar kommer leef oor ʼn honger winter wat vir mens en dier voorlê.

Ons besorgdheid gaan oor die gevolge hiervan vir weerloses in ons gemeenskappe; hulle wat arm is, werkloos of haweloos, siek of bejaard; hulle wat afhanklik is van maatskaplike hulp.

Ons besorgdheid gaan oor beleidsonsekerheid in ons land – van grond tot gesondheid, onderwys tot veiligheid – en die onvermoë in soveel regeringsinstellings om effektief en volhoubaar diens aan landsburgers te lewer, wat boonop vererger word deur endemiese korrupsie en onderlinge magstryde.

En, ons besorgdheid gaan oor die ontstellende wyse waarop ons op dit alles reageer; hoe ons skielik weer met agterdog en wrewel na mekaar kyk; hoe ons woorde mekaar weer kwets; die besef dat ons steeds nie gepraat kry oor ons onlangse verlede en dit verder terug in ons geskiedenis, en die letsels wat dit op mense se lewens gelaat het nie.

Ons wil bid: “Wees ons genadig, Here, wees ons genadig.”

In ons gereformeerde tradisie, begin die weg na hoop en heling in ons binnekamer, in die sien van die self in die spieël van Gods wet, in die vraag na ons eie aandeel in wat fout gegaan het; ʼn soeke na vergifnis by God; ʼn voorneme om op te staan en na mekaar te gaan – as broers en susters, as kollegas, as gemeentes en kerkverband, en na die gemeenskappe en nasie waarin God ons laat leef.

Dán sal ons ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Regering van Nasionale Eenheid kan doen om ons land en huishouding in orde te kry; skoon en heel te maak, groen en gesond te maak.

Ons vra vir die vryheid om ons land te bewerk en weer op te bou, om besigheid te doen en te boer, om ons kinders op te voed en aan die toekoms mee te werk. Ons vra die leiers van ons gemeenskappe om ʼn breë burgerlike dialoog te steun, in ruimtes waarin nie propaganda of politieke gewin die deurslag gee nie, maar inklusiewe- en konstruktiewe opsies vir Suider-Afrika. Ons doen ʼn beroep op president Ramaphosa en ons diplomatieke diens om met verantwoordelikheid, deursigtigheid en konsekwentheid die Verenigde State van Amerika en ander rolspelers te nader en ʼn dreigende ekonomiese krisis vir ons subkontinent af te weer.

Ons roep mekaar op tot kalmte en wysheid in ons woorde. Wie wind saai, só herinner God se Woord ons, sal ʼn storm maai (Hosea 8:7). Laat ons mekaar respekteer. Ons verbind ons daartoe om ons werk eerbaar te doen, in ons kerke en op alle akkers van God se koninkryk. En ons herinner mekaar daaraan om sout vir hierdie aarde te wees en lig in hierdie wêreld – juis in dié jaar dat ons in die woorde van Nicea getuig van Hóm wat die “Lig uit Lig” is.

Dagbestuur van die Moderamen van die Algemene Sinode

NG Kerke in Suider-Afrika.

 

 

 

 

 

 

 

 

Plasinggalery
Pos Dokumente

Video oor

DEEL DIT

Kerkbode Vennote

Elders gesien| Nadia Marais: ‘Hoe klink geloofstaal oor mediese bystanddood?’
9 October 2026
Leraars beweeg (Amptelike nuus – 09 Oktober 2026)
9 October 2026
NG Gemeente Paardekraal-Monument: Vastetermyn leraar (voltydse kontrak – drie jaar)
9 October 2026
Minister paai vrese rondom staatsbeheer van kerke tydens hoëvlak gesprek by Kasteel die Goeie Hoop
9 October 2026

Boodskap Vir Vandag Vennote

Dokter
11 October 2026
Rebel
10 October 2026
Goeie Nuus – Gebed
9 October 2026
Goeie Nuus
9 October 2026

Lig Tydskrif Vennote

Hoofmeisie met kanker: ‘Wonderwerke gebeur vandag nog’
7 October 2026
Man oor sy buite-egtelike verhouding: Só lyk die spoor van leuens en verwoesting – toe God se genadige ingryping
6 October 2026
‘Skryf is vir my soos om aan die soom van Jesus se kleed te raak’ – LiG-rubriekskrywer vertel hoe gehoorsaamheid haar lewe verander het
5 October 2026
Om luisteraars van God se genade bewus te maak– Nuwe Loof die Here-aanbieder deel sy program-resep
30 September 2026