Beste kollega
Ek hoop dit gaan goed aan jou kant. Die jaar is besig om vinnig sy einde te nader en jy is waarskynlik druk besig om vir 2018 te beplan. Sterkte daarmee en mag jy geseën wees met baie energie en groot verwagtings vir ʼn nuwe jaar. In hierdie brief deel ek met jou belangrike verwikkelings rondom ʼn paar sake wat dalk vir jou van belang sal wees. Dit is belangrik dat jy ingelig sal wees sodat jy hierdie inligting kan oordra waar dit van belang is.
- Vordering rondom die hantering van die hofstukke wat ontvang is
Soos deur die Kerkorde vereis, het die ATR by die ontvangs van die applikante se hofstukke besluit om alles in hulle vermoë te doen om die aansoek buite die hof te skik. Toe dit blyk dat dit nie haalbaar sou wees nie, het die ATR die Algemene Sinode se regsverteenwoordiger, mnr Hans Oosthuizen van die regsfirma Couzyn, Hertzog & Horak Ingelyf, geraadpleeg. Daar is toe besluit om te antwoord op die eedverklaring wat die applikante se aansoek vergesel het.
Die eerste taak van die sub-steunspan van die ATR was om ʼn dokument saam te stel en gereed te kry om die gesprek met die span advokate vaartbelyn te maak. Hierdie dokument is saamgestel uit twee afdelings, naamlik ʼn historiese oorsig van hoe die kerk haarself bestuur, die ontstaansgeskiedenis van die NG Kerk (Algemene Sinode) en die hantering van die Kerkorde, en ʼn gedeelte wat fokus op die bewerings wat die applikante in hulle eedverklaring maak.
Die kerk se regsverteenwoordiger het op grond van die ATR se advies vir advokaat Schalk Burger SC as senior advokaat aangestel. Op sy beurt het advokaat Burger versoek dat advokaat Borgstöm hom moet bystaan. Die eerste ontmoeting met die span advokate is voorlopig vir 1 November 2017 in Kaapstad geskeduleer. Na hierdie gesprek sal die sub-taakspan in samewerking met die kerk se regsverteenwoordiger die finale dokumente bespreek en advokaat Burger SC sal die kerk adviseer oor die respondente se antwoordende eedverklarings sowel as oor die proses vorentoe. ʼn Voorstel van die applikante dat die hele geskil voor ʼn arbiter afgehandel kan word en nie in die Hooggeregshof nie, is ʼn aspek waaroor die regspan se advies ook ingewin sal word. Die antwoordende eedverklaring sal voor die einde van hierdie jaar by die hof ingedien word.
- Reaksie op die verslag van die Commission for Cultural, Religious and Language Rights (CRL)
Die vergadering van die Parlement se Portefeuljekomitee vir Samewerkende Regering en Tradisionale Aangeleenthede wat die reaksie op die Commission for Cultural, Religious and Language Rights (CRL) se verslag toegelig het, het op 17-18 Oktober 2017 in Kaapstad plaasgevind. ʼn Vorige keer is verslag gedoen oor voorstelle deur dié kommissie om die kommersialisering van godsdiens teen te werk. Die vergadering van 17-18 Oktober se doel was om die reaksie van kerke en godsdienstige groepe op die verslag van die CRL met die titel Report of the hearings on the Commercialisation of Religion and Abuse of People’s Belief Systems aan te hoor. Die eerste vergadering van die Portefeuljekomitee oor dié verslag het op 27 Junie 2017 plaasgevind. Weinig kerke en godsdienste het van hierdie vergadering geweet. ʼn Tweede vergadering het dus op 17-18 Oktober plaasgevind. Tydens dié geleentheid is 34 voorleggings met verloop van die twee dae deur kerke en groepe gemaak. Uit die voorleggings was dit duidelik dat die voorstelle van die CRL vir die oorweldigende meerderheid Christelike kerke en organisasies onaanvaarbaar is. Die NG Kerk se voorlegging het, soos in haar aanvanklike reaksie, aangetoon dat die regulering van godsdiens onaanvaarbaar en in stryd met die Grondwet is. ʼn Moontlike uitweg sou wees om ʼn gedragskode saam met kerke en godsdienstige organisasies op te stel om probleme en uitdagings te hanteer. So ʼn oefening sou vir kerke en godsdienstige organisasies die geleentheid gee om belangrike insette te lewer waarmee hulle gemaklik is. Die NG Kerk sou graag deel van so ʼn proses wou wees.
- Wysingswetsontwerp van die Skolewet
Die wysigingsontwerp van die Skolewet wat vandeesmaand in die Staatskoerant gepubliseer is, het 46 klousules wat veranderinge in die bestaande wetgewing voorstel. Die voorgestelde veranderinge hou radikale implikasies in vir openbare skole en hulle beheerliggame. Indien die voorstelle in nuwe wetgewing opgeneem sou word, sal dit beteken skole sal gedwing word om parallel-medium te word sonder die nodige finansiering. Beheerliggame sal nie meer insette kan lewer oor wie by ʼn skool aangestel word nie en besluite oor taal en toelating sal nie meer die prerogatief van beheerliggame wees nie. Die wysigingsontwerp word deur kenners gesien as ʼn sentralisering van die onderwysstelsel sonder insette en besluite van die gemeenskap. Beheerliggame se funksie sal tot fondsinsamelaars gedegradeer word. Dit is van die uiterste belang dat ouers en gemeenskappe so wyd moontlik sal reageer op hierdie wysigingsontwerp. Kommentaar kan gestuur word aan advokaat TD Rudman by rudman.d@dbe.gov.za. Kommentaar moet die advokaat nie later as 10 November bereik nie. Klik hier vir die wysigingsontwerp. ʼn Formele reaksie van die NG Kerk sal in die komende dae aan jou gestuur word.
Groete en seën
Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Bybel-Media het my gevra om die volgende hulpmiddels onder predikante se aandag te bring:
- Reformasieviering
Ek herinner graag alle gemeentes aan die hulpmiddels wat ons saam met vennote ontwikkel het om Reformasiemaand te vier. Al hierdie hulpmiddels is beskikbaar by die Reformasie 500-webtuiste. Gebruik ook gerus die Reformasielied wat spesiaal vir hierdie vierings geskryf is. Klik hier om die Reformasie webblad te besoek.
- Kategeseseisoen
Hierdie tyd van die jaar dink gemeentes na oor hulle kategeseprogramme vir die volgende jaar. Bybel-Media het gevra dat ons hulle kategesegids vir 2018 onder alle gemeentes se aandag sal bring. Hierdie produkte is ontwikkel in samewerking met die Algemene Sinodale Taakspan vir Kategese. Dit is ʼn handige hulpmiddel om ‘n kategeseprogram te kies wat die beste by jou gemeente sal pas. Klik hier om die Jeugfokus webblad te besoek.
- Omgeeliefde-videos
Ons hoor gereeld pragtige verhale van gelowiges wat mekaar en vir ander mense versorg. Die video’s by hierdie skakel vertel sommige van hierdie verhale. Dit kan goed in ʼn erediens gebruik word of tydens die kollekte gewys word.