Die nood in veral KZN en kommentaar op Die Strand-verklaring

Beste kollega

Ek hoop en vertrou dat dit met jou goed gaan in ’n tyd wat ongelooflike eise aan ons stel. Die Covid-19-pandemie het baie van ons diep geraak. Baie het geliefdes verloor, uitdagings is aan ons en geliefdes se gesondheid gestel, bedienings moes totaal herstruktureer word. Talle predikante en lidmate beleef geestelike tamheid en voel emosioneel leeg getap deur al die trauma wat ons moet hanteer. Persoonlik en andersins gaan baie van ons nog lank die letsels dra van hierdie ongelooflik abnormale tyd.

Ek wil my meegevoel betuig met almal wat verliese gely het. Mag ons goeie Vader julle met liefde, krag en troos omvou.

In hierdie skrywe aan jou wil ek graag twee sake aanspreek. Die situasie in veral KZN en hoe die kerkverband betrokke kan raak, asook die berig wat in Die Burger van 14 Julie verskyn het.

  1. Die nood in veral KZN

Twee weke terug het ons te midde van al die uitdagings van die Covid-19-pandemie seker van die donkerste dae in ons land se geskiedenis beleef. Ongekende geweld en plundering het vir dae die nuus oorheers. Die onluste het sy eie uitdagings en trauma meegebring. Dit het geweldige druk op gemeentes in die onlusgeteisterde gebiede geplaas. Sinodes, ringe en gemeentes het egter wonderlik gereageer en hoop gebring waar hulle kon. Die Sinode van KZN het dadelik begin met ’n rampfonds en het ekumenies na vennote uitgereik om uitkoms en hoop te bring waar dit die nodigste is. Die Algemene Sinode het uit sy eie rampfonds R200 000 bygedra. Talle sinodes, gemeentes en individue het ook intussen finansieel bygedra tot die KZN-rampfonds. Vragmotors van oraloor het skenkings van voedsel en ander noodsaaklikhede aan die gemeentes van KZN beskikbaar gestel. Kerkbode het reeds verlede week begin berig oor vele hoopvolle verhale waarby die kerkverband in sy geheel betrokke is.

Die verhale skep ’n hoopvolle indruk van waarmee die kerk in hierdie tyd besig moet wees. Ons sien hier die NG Kerk op sy beste, saam is ons beter!

’n Beroep word gedoen op gemeentes, wat daartoe in staat is, om steeds by te dra tot die pogings van ons gemeentes in KZN. Die nood is groot en dit sal vir die onmiddellike toekoms nog so wees. In hierdie verband is die volgende besonderhede en kontakinligting belangrik vir hulpverlening:

  • Heinrich Theunissen (Newcastle) 084 607 5448
  • Petrus Botha (Pongola) 082 340 6600
  • Marius Schoombie (Amanzimtoti) 083 635 1523
  • Francois Maritz (Pietermaritzburg) 074 559 2243

Finansiële bydraes kan gemaak word aan:

NGK IN KZN
ABSA
Rek no: 114 000 00 82
Tak: 632005
Verwysing: HELPKZN

  1. Die berig in Die Burger van 14 Julie 2021

Met groot hartseer is kennis geneem van ’n berig in Die Burger van 14 Julie 2021. Dié berig handel oor die inhoud van Die Strand-gemeente se gemeentebrief waarin hulle redes aanvoer vir hulle dolering. In die brief word die suggestie gemaak dat die Algemene Sinode se omgaan met kernaspekte van die kerk se belydenisgrondslag, verdag is. Volgens die skrywe word dit aan gemeentes oorgelaat om “self te besluit” oor ’n lys van belangrike sake soos die opstanding, die duiwel ens. By lesers van die artikel, wat nie op hoogte is van sinodale besluite nie, het dit die persepsie laat ontstaan dat die besluite van die Algemene Sinode nie meer die integriteit van byvoorbeeld die opstanding van Christus en ander kernmomente van ons belydenis handhaaf nie. Tereg het dié persepsie oor ’n wye front ontsteltenis en reaksie uitgelok.

Verdagmakery ten opsigte van die besluite van die Algemene Sinode het in die sosiale media geëskaleer op ’n onverkwiklike manier wat die kerk geensins tot heil strek nie.

Die prosesse en besluite van die Algemene Sinode is uiters deursigtig. Alle notules en agendas is vir die publiek beskikbaar. ’n Spesiale taakspan is ook na die Algemene Sinode van 2019 aangewys om vrae rondom die besluite oor selfdegeslagverhoudings te hanteer.

Die belangrikheid van die NG Kerk se belydenisgrondslag is bo verdenking. Die NG Kerk is ’n kerk wat onomwonde erns maak met die gesag van die Skrif en haar belydenisskrifte. In dié verband kan daar net gekyk word na Artikel 1 van die Kerkorde en die beskrywing van wie ons is op die kerklike webblad.

Dit is een saak om ontevredenheid oor ’n sinodale besluit aan te spreek deur van kerkordelike remedies gebruik te maak. Dit is egter ’n ander saak as ontevredenheid lei tot verdagmakery ten einde sekere agendas te bevorder.

Hopelik sou die kerkraad van Die Strand-gemeente kan aandui dat daar meer aan hulle verklaring toegedig is as wat hulle bedoeling was. Gesprekke met dié gemeente is reeds aan die gang.

Intussen is sterk verklarings gemaak deur die voorsitter van die Ring van Somerset- Wes, dr Christo Benade, asook die voorsitter van die Algemene Sinode, ds Nelis Janse van Rensburg.

Reaksie op 7 punt van beswaar van die NG Gemeente die Strand

Strand verklaring

Die Strand Julie 2021

Kom ons vier en bevestig ons verbondenheid in hierdie uitdagende tyd deur mekaar te ondersteun en vir mekaar en ons land te bid.

Groete in Christus

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

Plasinggalery
Pos Dokumente
Video oor

DEEL DIT

Kerkbode Vennote

Watter Bybeldagboek kies ek vir die nuwe jaar?
18 December 2024
NG Gemeente Amersfoort: Voltydse leraar/emeritus
18 December 2024
ACK Howick/Pukekohe Gemeente in Auckland, NZ : Leraarspos
17 December 2024
Fontainebleau Gemeenskapskerk (NG Fontainebleau) : Aanbiddingsleier
17 December 2024

Boodskap Vir Vandag Vennote

Nie vir my nie, dankie!
3 January 2025
Wysheid in praktyk
2 January 2025
Wat is wysheid?
1 January 2025
Sê dit met jou lewe
31 December 2024

Lig Tydskrif Vennote

Loop lig vir sulke finansiële slenters
10 December 2024
2024 se mees gelese getuienisse: Ma se berou en twee vroue se stryd ná man se selfdood, tikverslawing
25 December 2024
‘n Planeetvriendelike Kersfees
25 November 2024
Kerstradisies – maak dit (nog) saak?
13 December 2024
Open chat
Hello 👋
Kan ons jou help?