Adventgebed 2025 en Adventlied

 

Here, 

help ons sien, glo en doen.

– Adventgebed 2025 –

Ons deel dié boodskap uit die ASM nie as samevatting van besluite of standpunte na ’n vergadering van 11-13 November 2025 nie, maar as ‘n opregte gebed – ‘n Adventgebed. Die gebed inspireer ook ’n lied wat by hierdie skakel https://www.youtube.com/watch?v=Puu3O9myabI gevind word.

 

Here God,

By die ingaan van hierdie Advent, wag ons op U.

Soos by ‘n ingang na dié plek waar U ons ontmoet;

soos in dié tyd tussen die alreeds en die nognie;

soos u kinders verlang en steeds sug – saam met u Skepping, saam met u Gees –

só wag ons en bid: Hoor ons gebed, in Christus Naam.

 

By die ingaan van hierdie Advent, bely ons dat ons in U glo.

U is steeds hier, ons Vader, Verlosser, Vertrooster.

U is dié Een wat gesê het dat daar lig sál wees;

dié Een wat die Lig vir die wêreld ís;

dié Een wat beloof het die duisternis sál wyk;

dié Een wat ‘n lig op ons pad kom gee;

dié Een wat ons stuur om lig te gaan wéés, en sout.

Help ons Here, om te blý glo, in Christus Naam.

 

By die ingaan van hierdie Advent, open U ons oë, om waarlik te sien:

hulle wat seer het en swaar kry;

hulle wat klein is, eenkant, oud of vergete;

hulle wat honger is, dors, siek of verdruk;

hulle wat geen uitkoms meer sien, geen werk, geen salf vir wonde;

hulle wat verlore is, hulle wat smag na vrede –

laat óns dan nie wegkyk van enigeen oor wie U besorgd is;

laat ons sien, Here, in Christus Naam.

 

By die ingaan van hierdie Advent, stuur U ons om te doen wat nodig is.

Ons is onherroeplik verbind aan mekaar;

ons treur saam met dié wat treur, dank saam met dié wat dank,

ons is bly saam met dié wat bly is.

Ons is onherroeplik verbind aan dié Afrikaland;

ons kies om hoop te dra, om te help waar ons kan,

om liefde te leef, om vrede te maak,

om eerlik te werk, om onreg te stop,

om nie aan geweld mee te doen,

om te praat vir stemloses, te bid met dié wat nie meer kan.

 

En dít, nie in ons naam nie, Here; en nooit in die naam van óns idees of ander magte nie –

alleen in dié Naam bo alle name: Jesus, die Redder; ja, in Christus Naam.

“Ons is tot U beskikking, Heer” (Lukas 1:38).

Laat ons sien, glo en doen. Amen.

 

Die skildery is van Chinese kunstenaar He Qi met die titel “The Annunciation”

Laai die woorde van die gebed hier af as ‘n PDF dokument. ASM_Nov2025_Adventgebed

 

Plasinggalery
Pos Dokumente

Video oor

DEEL DIT

Kerkbode Vennote

NG Kerk Vrystaat: Voltydse senior leierskappos (PSD)
13 October 2026
NG Kerk in Noord-Kaapland hou sinodesitting | Dag 1: ‘My bede is dat God hier sigbaar sal word’
12 October 2026
Reeks oor roepingsverhale: ‘My lewenspad tot hier’
12 October 2026
Brief: Hartkreet van ’n Dopper-in-diaspora
12 October 2026

Boodskap Vir Vandag Vennote

Regter
14 October 2026
Kind – Gebed
13 October 2026
Kind
13 October 2026
Tug – Gebed
12 October 2026

Lig Tydskrif Vennote

“My seuns sukkel om ‘die nuwe weergawe van my’ te aanvaar” – vrou vertel van uitdagings ná breinoperasie
13 October 2026
Hoofmeisie met kanker: ‘Wonderwerke gebeur vandag nog’
7 October 2026
Man oor sy buite-egtelike verhouding: Só lyk die spoor van leuens en verwoesting – toe God se genadige ingryping
6 October 2026
‘Skryf is vir my soos om aan die soom van Jesus se kleed te raak’ – LiG-rubriekskrywer vertel hoe gehoorsaamheid haar lewe verander het
5 October 2026