Regdeur ons lewens as kinders van God, is daar kosbare momente waarby ‘n mens wil stilstaan, dit inneem, dit bedink, en dit vier. Die doop is die begin daarvan. In die doop begin die antwoord op die vraag ‘Wie is ek’, en van daar af, soveel betekenisvolle momente waarin jy meer ontdek van God en reageer daarop. Ons noem dit Roetemerkers. Op die AS se Youtube kanaal is ‘n video https://www.youtube.com/watch?v=H-f87M4f5bI wat die betekenis van Roetemerkers illustreer. Gemeentes is nou besig om Roetemerkers te implimenteer. Soos met nuwe gebruike en praktyke, is daar groeipyne, en het die ASM wat van 29-31 Oktober 2024 vergader het, die gerusstelling gegee dat ons nog tyd het tot en met die Algemene Sinode van 2027 om al die administratiewe rimpels uit te stryk. Ons wonder byvoorbeeld nog oor hoe ‘n saak soos regsaanspreeklikheid hanteer moet word wanneer ‘n persoon op die kerkraad aangewys word. Kan iemand jonger as 18 jaar dus op die kerkraad dien? Die ASM se riglyn is dat ons oor hierdie saak, die status quo van die Kerkorde 2019 sal handhaaf. Die voorstel het die implikasie dat slegs lidmate ouer as 18 jaar op ‘n kerkraad kan dien asook approbasie verleen. Daarom die advies dat totdat ons verder hieroor kon besin “slegs belydende lidmate tot die ampte (diens, leierskap) gekies word”. Laasgenoemde is die status quo waarna verwys word, behalwe dat ons natuurlik nie meer tussen doop en belydende lidmate in Roetemerkers onderskei nie. Jy word ‘n lidmaat in die doop. Jy is nie minder of meer lidmaat tussen doop en belydenis nie.
Hier is ‘n paar tipiese vrae waaroor ‘n kerkraad dalk mag wonder en ‘n poging om daarop te antwoord.
Moet ons nog aangaan met Roetemerkers? Beslis. Die ASM se besluit staan nie teenoor die vorige besluite van die AS hieroor nie. Ons faseer die teologie, taal en gebruik van Roetemerkers volledig in oor die volgende 3 jaar. Volledig inligting hieroor is reeds deurgegee.
Mag iemand wat nie die Roetemerker vir Jong Volwassenes (voorheen belydenis van geloof) deurgegaan het nie, steeds op die kerkraad dien? Ja, hulle mag, indien hulle ouer as 18 jaar oud is. Die vrae by die bevestiging van die kerkraadslid, dien as ‘n roetemerker en dus die belydenis van hulle geloof.
Wanneer is iemand “handelsbevoeg”? Met ander woorde, wie kan approbasie verleen en is stemgeregtig in ‘n gemeente? Almal ouer as 18 jaar wat gedoop is.
Mag iemand wat nie die Roetemerker vir Jong Volwassenes (voorheen belydenis van geloof) deurgegaan het nie, hulle kind tot doop bring? Ja, hulle mag, aangesien die belofte van die ouer by die doop van hul kind, ook dien as ‘n roetemerker vir die ouer en dit is dus ook ‘n belydenis van die ouer se geloof.
Moet ons voortgaan om aan te dui of lidmate doop- of belydende lidmate is? Ja, ons gaan intussen voort daarmee.
Wanneer word iemand se status verander van dooplidmaat na belydende lidmaat op die Winkerk databasis in die interim tyd?
By die Roetemerker vir Jong Volwassenes (voorheen belydenis van geloof)
Indien hulle nie die Roetemerker vir Jong Volwassenes deurloop het nie, by enige van die volgende roetemerkers waar hulle hulle geloof bely, byvoorbeeld die bevestiging van die persoon as kerkraadslid, by die doop van hulle kind, of enige ander roetemerker waar hulle hulle geloof bely (sien die voormalige vrae van die BVG as uitgangspunt).
Daar sal nog vrae wees wat nie hier beantwoord is nie. Rig dit gerus aan niomav@ngkerk.org.za.
Nioma Venter