PASTORALE BRIEF IN AUGUSTUS 2025
“Geseënd is dié wat suiwer van hart is,
want hulle sal God sien.
Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.”
(Matteus 5:8-9)
Geagte broers en susters, gesinsgenote in Christus Jesus:
In tye soos dié – “wanneer die aarde skud, die waters woed, die nasies onstuimig raak” (Psalm 46) – verlang mens na die eenvoudige, helder wysheid van Jesus, ons Here. Op Maandag, 28 Julie 2025, het ons as Dagbestuur van die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) by eMseni vergader, en dáárheen geblaai: Matteus 5, die “Saligsprekinge”. Sý evangelie oor afhanklikheid, troos, sagmoedigheid, barmhartigheid, geregtigheid en die koninkryk van die hemele. In die hart daarvan, dié seënspreuk oor “suiwerheid van hart” en “vredemaak”. Hoe nodig het ons kerke, ons land, kontinent Afrika en die wêreld dit nie nou? Later in sy Bergrede verbind Jesus dit konkreet aan die verhouding met ’n “broer”, met ’n “teenstander” selfs (Matteus 5:23-27)! En nog later sou Paulus dit vir daardie moeilike gemeente Korinte skryf: “Is daar dan nie een wyse onder julle wat in staat is om reg te spreek oor sy broer nie?” (1 Korintiërs 6:5). In ons daaglikse saamleef met mekaar is dít die weg: wysheid, regverdigheid, vrede. Sout en lig – ons identiteit en roeping in Christus (Matteus 5:13-16).
Ons het as Dagbestuur – ’n verteenwoordiger uit elk van die nege sinodes – geluister na hoe dit in gemeentes gaan; verhale gehoor van lewe, toewyding en sorg in die hartjie van die winter; óók van uitdagings in klein gemeentes; vakatures en min aansoekers; van ongelukkigheid en stryd. Daar is net één manier om deur hierdie moeilike tyd in ons kerkverhaal te kom, en dít is dat ons eerlik saam met mekaar die pad loop, werklikhede in die oë kyk en met begrip en deernis planne maak om te help. Bly weg van vals nuus, moenie meedoen aan laster, soek die waarheid van Christus en sy Woord – ons is as gemeentes en kerkverband, deel van Sý liggaam; Hý is ons Leidsman en Hoof (Hebreërs 12:2). Hoe ons ons onderlinge verskille hanteer, is deel van ons getuienis. Vandaar die Dagbestuur se oproep: laat ons mekaar opsoek, en binne veilige ruimtes met die riglyne die Skrif, ons belydenis en Kerkorde ons probleme uitpraat. Waar leraars, kerkrade en vergaderinge eensydige besluite buite die Kerkorde neem sónder om met die ring of sinode daaroor in gesprek te tree of waar dele van die Kerkorde geïgnoreer word, loop ons almal ’n regsrisiko. Dis beter om openhartig met mekaar in gesprek te tree (Matteus 5, 1 Korintiërs 6), as om oorhaastige besluite te neem wat die lewe en bediening van ’n gemeente mag skaad en ons almal se Christelike getuienis ongeloofwaardig maak.
Dié oproep van Jesus om sout en lig te wees – suiwer van hart, honger en dors na geregtigheid, vredemakers – raak ook ons getuienis in ons vaderland. In die onlangse tyd het ons opnuut onder die indruk van spanning gekom: die gerugte van misdaad-sindikate binne instellings wat vir wet en orde moet sorg; die impak van internasionale handelsbeleid en ekonomiese realiteite op gewone Suid-Afrikaners, wat alreeds enorme vlakke van werkloosheid, armoede en die ineenstorting van basiese dienste probeer oorleef; endemiese korrupsie in sowel die publieke- as privaatsektor en wat weens bedenklike beleidskeuses van die regering en die gebrek aan kragdadige optrede daartéén, voortskrei. Suid-Afrikaners voel vervreemd en onveilig, beleef bestaansonsekerheid en die lostorring van ons verbondenheid as nasie. In die woorde van biskop Sithembele Sipuka, president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) by die Nasionale Gebedsdag op 22 Junie:
“Like siblings who have inherited a complicated family legacy, we find ourselves caught up in cycles of mutual accusation – each side holding pieces of the truth, each side feeling unheard, and each side talking past each other rather than to each other. The recent events that have dominated our public conversation—the exodus of some citizens claiming persecution, the debates about land and genocide, the accusations flying back and forth – these are not just political disagreements. They are the symptoms of a family that has never fully learned how to be a family.”
In die lig hiervan, en in ooreenstemming met ons Roepingsverklaring 200+ ná die Algemene Sinode van 2023, ondersteun ons die SARK se kritiese deelname aan die komende Nasionale Dialoog (sien die meegaande verklaring van die SARK). Ons sien dit as ’n kans vir ’n diepergaande familiegesprek, waardeur gewone Suid-Afrikaners mekaar in die oë kan kyk, ons werklike probleme by die naam kan noem, na mekaar luister en saam na oplossings soek wat kan werk. Ons onderskryf die waardes van deursigtigheid, integriteit en inklusiwiteit wat hierdie dialoog moet onderlê, en doen daarom ’n beroep op die regering en politieke leiers om op geen manier die gesprek vir eie gewin te kaap nie. Laat ons ook hiervoor bid.
In dieselfde gees en woorde van Jesus in Matteus 5, het ons as Dagbestuur besin oor die groter konteks waarin die Kerk van Christus haar tans wêreldwyd bevind. Ons bewussyn van wat rondom ons gebeur en die nood waarin dit kerke, volkere en wêrelddele stort, is verskerp deur gesprekke met ons familiekerke in buurlande; die afgelope vergadering van die sentrale komitee van die Wêreldraad van Kerke in Suid-Afrika; die uitreik van die Evangelical Reformed Church in Russia na ons, én voorbereidings vir die vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Thailand in Oktober vanjaar. Hoewel ons reeds in die Algemene Sinode van 2023 ’n duidelike besluit oor die konflik in Palestina en Israel geneem het en dit verlede jaar in ons Hervormingsdaggetuienis – namate daardie konflik verder geëskaleer het – nóg sterker gestel het, is die Dagbestuur oortuig dat woorde alleen nie meer ’n verskil aan die lyding van mense in daardie landstreke maak nie. Ons sien die honger van vroue en kinders; ons hoor die noodroep van lydendes; ons dink aan die woorde van Jesus in Matteus 25:31-46. Die ASM het dit goedgekeur dat ’n bedrag van R250 000 uit die Algemene Sinode se Rampfonds deur ’n betroubare Christelike ekumeniese netwerk vir hulpverlening aan slagoffers in Gasa geskenk word. Die ASM sal in November vanjaar verder besin oor hoe ons die middele wat God aan ons as kerkverband geskenk het, ter noodleniging en versterking van ons getuienis deur Woord en brood plaaslik, elders in Afrika en verder behoort aan te wend.
Oor die werksaamhede van ons algemeen-sinodale taakspanne vir gemeentelike bediening, opleiding, diakonaat, getuienis en ekumene het die Dagbestuur ook verslae ontvang en is daar goeie vordering om dit volgende jaar deur al nege sinodes te laat sirkuleer vir oorweging en terugvoer vóór die Algemene Sinode van 2027. Ons is oa besig om die Kerkverbandverslag van 2019 in die lig van ’n nuwe konteks ná Covid en verwikkelinge in ons gereformeerde kerkfamilie te bestudeer. Die Algemene Taakspan Navorsing samel ook tans hieroor inligting en perspektiewe onder predikante in – baie dankie aan almal wat daaraan deelneem.
Ter afsluiting: “Geseënd is dié wat suiwer van hart is”, het Jesus gesê (Matteus 5:8). ’n Woord vir ons binnekamer en stiltetyd, vir selfondersoek. Ook ’n seënbede, het Hy gesê: “hulle sal God sien.” Laat ons dít dan van Hom vra.
Hartlike groete!
Dagbestuur van die Moderamen van die Algemene Sinode
NG Kerke in Suid-Afrika
14 Augustus 2025