Die NG Kerk neem hier reg aan die einde van 2024 met besorgdheid kennis van die verslegtende politieke situasie in Mosambiek. In die woorde van ‘n kerkleier in ons buurland het hulle vanjaar “a mourning day in stead of a Christmasday” beleef.
Protes en onrus het gevolg na die onlangse verkiesing in Mosambiek. Hoewel die land se konstitusionele hof die regerende party, FRELIMO as oorwinnaar met meer as 60% van die kiesersteun verklaar het, is daar onsekerheid of die verkiesing vry en regverdig verloop het. Hoë werkloosheidsyfers en groot jeugarmoede in die land verklaar waarskynlik die frustrasies onder veral jonger kiesers. Kommer bestaan dat vanweë die onstabiliteit en plundering van winkels en infrastruktuur, die breë bevolking op ‘n humanitêre krisis kan afstuur. Een van die moontlike gevolge is dat groot getalle vlugtelinge na buurlande uitwyk, onder andere ook na die noord-oostelike streke van Suid-Afrika.
Die NG Kerk is as deel van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) tans met die Mosambiekse Raad van Kerke (MRK) in gesprek is. Tydens só gesprek op Maandag 30 Desember 2024, het die SARK ondersteuning uitgespreek vir pogings om die onderskeie politieke partye in Mosambiek tot dialoog en onderhandelinge te beweeg. Die SARK ondersteun ook die MRK se algemene beroep op kalmte in die land. Ons wil voorbidding vra vir hierdie vredespogings, asook vir uitkoms bid vir derduisende mense wat alreeds onder die geweldpleging ly.
Ons medelye gaan uit na ons buurland. Ons bid vir al die leiers van Mosambiek, vir wysheid en verantwoordelikheid in hierdie dae in aanloop na die inhuldiging van hul nuwe president op 15 Januarie 2025. Intussen is ons ook saam met die SARK besig om ‘n inskatting te maak van hoe moontlike materiële hulp die werklike lydendes in Mosambiek sal kan bereik. Ons dink in besonder ook aan ons familie van Gereformeerde Kerke in Mosambiek en elke lidmaat van hierdie gemeentes.
Hier is hoe lidmate en gemeentes nou prakties kan aansluit by ondersteuning aan Mosambiek:
- Sluit aan by die kerke in Mosambiek wat spesifiek daagliks om 7nm bid vir uitkoms en herstel.
- Bid saam met kerke in Mosambiek op twee nasionale gebedsdae wat aangekondig is:
- 4 Januarie 2025 – gebed vir die herstel van alles wat vernietig is in Mosambiek
- 16 Januarie 2025 – gebed vir nasionale versoening (die dag na die amptelike inhuldiging van die nuwe regerende party)
Die SARK werk saam met die MRK om praktiese ondersteuning te verleen aan Mosambiekse gemeentes, spesifiek met:
- Voedsel
- Medikasie
- Ander vorms van noodleniging
Ons dra Mosambiek, haar mense en omliggende streke aan die Vredevors en ons Ewige Raadsman op, Christus, die Here.