NUUSBRIEF: ASM 11-13 NOVEMBER 2025
GESREKSPUNT: EVANGELISASIE EN DIAKONAAT
Hierdie is ʼn opsomming van die inhoud en uitkomste van Sessie 7 oor die groter konteks van ons kerkwees in Suid-Afrika. Volledige verslae wat gedien het, is op aanvraag beskikbaar.
Evangelisasie en diakonaat as een beweging: Kerk wees met WOORD en dade
“Wat doen die NG Kerk om nood in ons land aan te spreek?” – dit is ‘n vraag wat dikwels gehoor word. Die uitgangspunt waarmee die kerk altyd behoort te werk, is dat evangelisasie en diakonaat twee kante van die dieselfde munt is.
Getroue rekenskap van God se gawes
By beide die twee vergaderings van die ASM vanjaar, het die woord “rentmeesterskap” duidelik geklink. Rentmeesterskap is om God se gawes getrou te bestuur vir Sy koninkryk.
Uitstekende beleggingsprestasie die afgelope boekjaar, stel die ASM in staat om direk tot nood by te dra: ‘n bedrag van R1,5 miljoen per jaar oor drie jaar is aan lidorganisasies van die Kerklike Maatskaplike Dienste Raad (KMDR) toegeken, terwyl ‘n rampfonds van R4 miljoen gevestig is vir nasionale en internasionale noodsituasies. Die dagbestuur in oorleg met relevante taakspanne het opdrag om riglyne vir ʼn sentrale rampfonds te ontwikkel.
Die ASM het ʼn instaatstellende funksie en dra met hierdie finansiële bydraes en in gehoorsaamheid van God by tot die impak van die NG Kerk se bediening aan plekke van nood regdeur ons land.
Kerk en nood: ‘n Komplekse werklikheid
Dié besluite volg op intense besinning oor die kerk se omvattende diakonale roeping in ons land en hoe hierdie bediening ook die weg vir evangelisasie open. Vrae het ontstaan nadat die ASM in Augustus 2025 R250 000 aan kerke in die Midde-Ooste toegeken het vir humanitêre hulp in Gasa. Terwyl sommige die daad verwelkom het, het ander gevra: “Wat doen die kerk plaaslik om nood te verlig?” Hierop móét die kerk met deursigtigheid antwoord.
Die werklikheid is dat die NG Kerk se barmhartigheidsbediening op vele vlakke plaasvind – deur individuele lidmate, gemeentes, ringe en sinodes. Hierdie veelvlakkige betrokkenheid maak dit egter moeilik om ‘n samehangende prentjie van die kerk se nasionale voetspoor te vorm. Terwyl sommiges daarop aandring om te weet, is daar ander wat meen dat dit nie nodig is vir die kerk om betrokkenheid publiek bekend te maak nie.
’n Stad op die berg kan nie sy lig wegsteek nie
Jesus se woorde in Matteus 5:16 is rigtinggewend vir die getuienis van die kerk: ‘Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.’
By gebrek aan ’n sentrale data-sisteem, toon ‘n lukrake opname tussen sinodes en ander die omvang van die kerk se werk. Die nege sinodes se gesamentlike begroting vir diakonaat in die vorige boekjaar beloop R25,6 miljoen. Sodanige fondse ondersteun die bediening van ringe, gemeentes en kerklike medewerkers en is daarom bloot instaatstellend (indirekte bediening). Die twaalf KMDR-lidorganisasies se gesamentlike besteding aan professionele maatskaplike dienste beloop R1,6 biljoen in die vorige boekjaar.
Op gemeentevlak vind noodverligting op uiteenlopende wyses plaas: sopkombuise, voedselverspreiding, gemeenskaptuine, werkskeppingsprojekte, nasorgprogramme vir kinders, en ondersteuning aan straatmense en migrante. Hierdie mosaïek van bedieningspraktyke gebeur stilweg, sonder formele rapportering, maar met sigbare impak in gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Uiteindelik is gemeentes en lidmate die direkte bedienaars van diakonaat.
Woord én daad
Die ASM het ‘n teologiese raamwerk ontvang van die betrokke taakspanne wat evangelisasie en diakonaat as onafskeidbaar bevestig. Soos David Bosch dit stel: “Die daad sonder die woord is stom; die woord sonder die daad is leeg.” Sinodes het nou ’n geleentheid om kommentaar op die raamwerk te lewer onderweg na ’n volledige verslag hieroor aan die Algemene Sinode wat in 2027 plaasvind.
Die raamwerk verwerp enige vorm van afwatering wat evangelisasie, diakonaat en sosiale geregtigheid teen mekaar afspeel. Dit beklemtoon ‘n geïntegreerde benadering met drie kernelemente:
Getroue teenwoordigheid – Om op grondvlak tussen mense te wees en met onvoorwaardelike liefde na hul behoeftes te luister, terwyl ons biddend onderskei waarmee God besig is.
Dade van deernisvolle liefde – Hierdie dade beliggaam God se deernisvolle liefde prakties. Dit sluit in noodverligting, bemagtiging, versoening, versorging van die skepping, en profetiese aksies vir geregtigheid.
Gepaste woorde – Geleenthede kom navore waar wedersydse gesprekke oor geloof spontaan plaasvind. In hierdie gesprekke kan die Goeie Nuus gedeel en mense genooi word om Jesus saam met ander te volg.
Hierdie benadering is nie lineêr of resepmatig nie, maar interaktief en kontekstueel, onder leiding van die Heilige Gees.
Nuwe strukture vir groter impak
Om getuienis en rentmeesterskap te dien, word ‘n geïntegreerde data-sisteem ontwikkel wat in die toekoms data van die KMDR-organisasies én die nege sinodes sal saamsnoer. Dit sal help om die kerk se impak beter te verstaan en te kommunikeer.
Die oprigting van ‘n sentrale rampfonds met duidelike riglyne spreek ‘n langstaande leemte aan. Voorheen is ad hoc-besluite geneem tydens krisisse soos die droogte van 2018-2019, Covid-19, en die humanitêre ramp in KwaZulu-Natal. Nou sal daar ‘n deursigtige raamwerk wees vir beide nasionale en internasionale noodsituasies waartoe die kerk geroepe voel om ondersteuning te bied.
Ekumeniese betrokkenheid
Die NG Kerk neem ook deel aan die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se GRAPE-projek wat fokus op ekonomiese geregtigheid. Die Suid-Afrikaanse span werk saam met burgerlike organisasies wat moontlikhede ondersoek vir ’n universele basiese inkomste vir alle burgers van die land – gegewe ‘n land met diepe armoede en stygende werkloosheid.
Kontekstuele bybelstudies oor ekonomiese geregtigheid word ontwikkel om gemeentes te help om lidmate se verstaan van hierdie roeping teologies te verdiep.
Van Jerusalem tot die uithoeke
Die besluite van die ASM bevestig dat die kerk geroep is om beide plaaslik én globaal betrokke te wees. Soos die Hervormingsdaggetuienis 2024 dit stel: “Ons glo dat God ons stuur om saam met ander kerke te getuig van Christus se Evangelie, Sy geregtigheid en vrede – en om saam met gemeenskappe te werk in die verligting van nood en die bediening van hoop.”
Die uitdaging is om as kerkverband kollektief meer sistemies en genuanseerd oor die impak van ons barmhartigheidsroeping te dink en praat. Met nuwe strukture, fondse en ‘n duidelike teologiese visie, is die NG Kerk toenemend toegerus om die goeie nuus van die evangelie holisties te beliggaam – op grondvlak – in woord én daad.
Tersaaklike besluite
LET WEL: Hoewel die notule van hierdie vergadering nog nie goedgekeer is nie, word die besluite rakende evangelisasie en diakonaat gedeel aangesien baie daarvan ook reeds in die media bekendgemaak is.
- Die ASM neem kennis van die verslag aangaande ’n geïntegreerde verstaan van evangelisasie en barmhartigheid (diakonaat) in opdrag van die Algemene Sinode 2023.
- Die ASM verwys dit na samestellende sinodes vir kommentaar.
- Die ASM versoek sinodes om terugvoer te gee teen Maart 2026 aan die Taakspan Evangelisasie en ’n werkgroep vir diakonaat.
- Die ASM neem kennis van die verslag van die Dagbestuur oor die breër konteks waarin ons geroep is om Kerk van Christus te wees;
- gee geleentheid vir ‘n diepgaande, geloofsonderskeidende gesprek oor ons getuienis as NG Kerk, spesifiek in terme van die Evangelie en ons missionale diakonaat;
- neem ook kennis van inligting wat uit die tafelgesprekke tydens hierdie vergadering oor hierdie saak bekom is;
- neem in die lig van die gesprek oor die nood in ons konteks, die volgende besluite:
-
- Die ASM versoek die Dagbestuur, die fokusgroep vir Diakonaat en die ATFB om onder leiding van die Algemene Sekretaris beleid te ontwikkel vir die Algemene Sinode oor konkrete noodleniging binne- en buite Suid-Afrika, met voorlegging aan die ASM en uiteindelik die Sinode van 2027;
- Die ASM dra dit aan die Dagbestuur en die Taakspan Ekumene op om spesifiek aan die nood in konfliksituasies in Afrika aandag te gee, en versoek dat daar deur die Reformed Family Forum en die African Council of Reformed Churches inligting bekom sal word en dit vir verdere oorweging van hulpverlening aan die ASM voor te lê;
-
- Die ASM besluit om die Ramp/Noodfonds van die Algemene Sinode te versterk tot ‘n bedrag van R 4 000 000, waarby die sinodes in geval van rampe of onvoorsiene noodtoestande op kort kennisgewing aansoek om ondersteuning kan doen;
- Die ASM besluit om ‘n bedrag van R 1 500 000 per jaar (aan die einde van 2025, 2026, 2027) aan die KMDR beskikbaar te stel vir die onmiddelike aanspreek van maatskaplike behoeftes soos deur daardie organisasies geïdentifiseer;
- Die ASM dra dit aan die Dagbestuur en die Fokusgroep Publieke Getuienis en Ekumene op om te besin oor die bemagtiging van bedienaars van die Woord, om in ‘n toenemend komplekse wêreld ‘n helder getuienis te laat hoor oor die koninkryk van God, en Jesus as enigste Here van die Kerk, en voorstelle hieroor aan die ASM voor te lê;
- gee geleentheid vir gebed, as ‘n roep na God se ontferming oor ‘n wêreld in nood.
Navrae kan gerig word aan: niomav@ngkerk.org.za of nadiaa@ngkerk.org.za